ONTDEK JOU PLEK (Moreletapark Gemeente)

MY ROEPING

 

Dit is belangrik dat ons elkeen seker sal wees oor ons ROEPING in hierdie wêreld.  Om seker te wees hiervan, beteken dat jy sal weet hoekom lewe jy.  Watter verskil is jy veronderstel om te maak en hoe sal jy die wêreld ‘n beter plek agterlaat?  Moet nie bekommerd wees as jy nie dadelik ‘n duidelike antwoord op hierdie vrae het nie.  Die doel van hierdie afdeling is om jou te begelei deur ‘n proses van ontdekking van jou roeping.

  • “Jy word eerstens na Iemand en dan na iets toe geroep”
  •  Live a life that measures up to the standard God set when he called you.(Ef 4:1b )
  • ’n Roeping is spesifiek en uniek vir jou!
  • Roeping kan omskryf word as iets wat die Here my opgelê het, my droom, my visie of my passie. Dit is direk verbind aan my ‘storie’.

 

Die feit dat God ‘n spesifieke plan vir elkeen van ons se lewens het, loop soos ‘n goue draad deur die Woord.


  • God berei jou in jou roeping voor – selfs voor jou bekering.
  • Vergelyk die verhaal van Paulus. Hy het sy opleiding en ervaring van voor sy bekering gebruik in sy roeping vir die evangelie – sy fokus het egter verander, asook sy waardes en prioriteite!
  • Roeping of jou hart het nie noodwendig ‘n “geestelike” aard (soos ‘n sendeling of ‘n predikant) nie, maar jy moet dit toets aan die kern: Hoe eer dit wat ek doen die Here en bou sy koninkryk, en hoe dien dit mense en die gemeente?
  • Roeping het dikwels direk te make met ‘n positiewe ervaring uit jou verlede.
  • Roeping is die geestelike “DNA” wat vasgelê is in jou diepste wese.
  • Roeping is die gevoel van ‘n hart wat vinniger klop en asem wat jaag.
  • Roeping is die waaghalsige reis langs ‘n onbekende pad in ‘n onseker toekoms.
  • Roeping is energie wat jou aandryf vir God se doel – dit wat jou hart vinniger laat klop.
  • Roeping is eenvoudig daar waar jy ‘n verskil wil maak vir Jesus op aarde.
  • Die kombinasie van jou jou Roeping, jou Persoonlike Styl en jou Gawes sal jou Skeppingsdoel vir jou duidelik maak.

 

PRAKTIESE OEFENING 1:  LUISTER NA JOUSELF

Laai die Roeping Werksblad 1  af en druk dit uit. Volg die volgende aanwysings:

1.   Oorweeg jou antwoorde op die onderstaande vrae biddend.

2.   Voltooi die Vraelys op jou eie.

3.   Daar is nie regte of verkeerde antwoorde nie.

4.   Moenie besorgd wees oor of jy dit kan doen en hoe dit gedoen moet word nie.

5.   Voltooi die Vraelys asof daar geen hindernisse is wat jou kan verhinder om jou hartsbegeertes te vervul nie.

 

PRAKTIESE OEFENING 2:  LUISTER NA JOUSELF

Laai Roeping Werksblad 2 af en voltooi dit volgens die volgende riglyne:

Neem elkeen van die sake of aspekte wat in die oefeninge na vore gekom het, en rangskik dit as volg:

  • Interessanthede: Sake waaroor jy soms dink, praat of lees.
  • Belangstellings: Sake waaroor jy dikwels dink, praat of lees.
  • Roeping: Hierdie is sake waaroor jy nie kan stop om oor te dink, praat of lees nie. Om die waarheid te sê, hierdie sake dryf jou oor tot aksie – selfs opoffering – om die mense te help wat daarmee gemoeid is of om die behoefte aan te spreek.

Ons lewe bestaan nie net uit een betokkenheid / verantwoordelikheid nie, en daarom moet ons besef dat ons roeping verskeie dimensies het.

Kyk of jy na die voorafgaande oefeninge jou roeping vir jouself in hierdie 2 gedagtes kan opsom…


 

ADDISIONELE LEESWERK: Leef met ‘n Doel –  Rick Warren (Grepe uit ‘Die Doelgerigte Lewe’; Hfst 40)

‘n Doelgerigte lewe is die enigste manier om werklik te lewe. Enige ander manier van leef is om net te bestaan, nie om te leef nie.

Die meeste mense worstel met drie groot sake (issues) in hul lewe. Die eerste probleem is identiteit: “Wie is ek?”. Die tweede is belangrikheid: “Maak ek saak?”. Die derde is impak: “Watter plek het ek in die lewe?” Die antwoord op hierdie vrae lê opgesluit in die doel waarmee die Here ons gemaak het.

As jy weet wat God wil hê jy moet doen, kry jy seën wanneer jy dit doen. Kom ons kyk na Jesus se voorbeeld. In die bo-kamer, aan die einde van die laaste dag wat Jesus saam met sy dissipels deurgebring het, het Hy hul voete gewas om daardeur vir hulle ‘n voorbeeld te stel, en toe sê Hy: “Julle weet nou, gelukkig is julle as julle ook doen.”

Om te doen wat die Here van jou verwag, beteken waarskynlik dat jy ook sal moet ophou om sekere ander dinge te doen. Daar is baie “goeie” dinge wat jy kan doen uit vrye keuse en omdat die omstandighede dit toelaat, maar jou lewensdoel is daardie iets spesiaal wat jy moet doen; dit is hoekom jy geskape is en hoekom jy lewe. Ongelukkig word ons aandag maklik afgetrek en dan vergeet ons die heel belangrikste dinge. Dit is dus baie belangrik dat jy presies weet wat jou lewensdoel is, sodat jy gereeld kan toets of jy op die regte pad is en ook regstellings kan maak as jy agterkom dat jy afgedwaal het omdat ander dinge belangrike plekke in jou lewe kry.

Die Vyf belangrikste vrae in die lewe

·        Wat gaan die kern van my lewe wees?

Dit is die aanbiddingsvraag. Vir wie lewe jy? Waarop gaan jy jou lewe bou? Jy kan jou lewe om jou loopbaan, jou gesin, ‘n sport of stokperdjie, geld, pret of allerhande ander bedrywighede bou. Dis alles goeie dinge, maar dit moet nie die kern van jou lewe uitmaak nie. Vra jouself af: wat is so belangrik dat as dit vandag uit my lewe weggevat word, ek nie verder sin en betekenis in die lewe sien nie en ook nie verder kans sien vir die lewe nie? Antwoord eerlik, en dalk word jy bewus van ‘afgode’ wat jou lewe beheer.

Hoe weet jy dat God die kern van jou lewe is? Wanneer God die kern is, aanbid jy. Indien nie, tob jy. Kwellings is die waarskuwingsligte dat God na die kantlyn gedruk is. Sodra jy Hom weer die kern maak, ervaar jy vrede.

·        Wat gaan die karakter van my lewe wees?

Dis die vraag oor dissipelskap. Watter soort persoon is jy? Onthou dat jy jou karakter tot in ewigheid saamneem, maar nie jou loopbaan nie? God stel belang in wat jy is, en nie soveel in wat jy doen nie. Maak ‘n lys van die karaktereienskappe waaraan jy in jou lewe wil werk en wat jy wil ontwikkel. Groei en dra jy die Vrug van die Gees in jou? (Gal 5.22)

·        Wat gaan my bydrae wees?

Dis die diens-vraag. Wat gaan jou bediening in die liggaam van Christus wees? Jy weet watter kombinasie van gawes, hart, aanleg, persoonlikheid en ervaring daar in jou is – watter rol kan jy dan die beste in God se familie speel? Hoe kan jy ‘n verskil maak? Is daar ‘n spesifieke groep binne die liggaam wat ek moet bedien? Jy is geskep om ander mense te bedien, maar selfs Jesus het nie alle siekes op aarde genees en alle blindes laat sien en alle dooies opgewek nie. Jy moet op grond van jou innerlike wese besluit wie jy die beste kan help. Jy moet vra: “Wie wil ek graag help?” Jesus het gesê: “Ek het julle uitgekies en jul aangestel om uit te gaan en vrug te dra, vrugte wat sal hou.” Ons dra almal verskillende vrugte en ons het almal verskillende gawes.

·        Wat gaan die kommunikasie van my lewe wees?

Dis die vraag van jou sending na ongelowiges. Jou missieverklaring maak deel van die doelstellings vir jou lewe uit. Dit behoort jou verbintenis in te sluit om ‘n getuienis te deel en om die Blye Boodskap met ander mense te deel. Terwyl jy in Christus groei, gee God jou miskien ‘n spesiale teikengroep mense wat jy moet probeer bereik.

·        Wat gaan die gemeenskap van my lewe wees?

Dis die gemeenskaps-vraag. Hoe gaan jy jou verbintenis tot ander gelowiges en die verband met God se familie bewys? Waar en hoe gaan jy die Bybel se “mekaar” opdragte teenoor ander Christene uitvoer? By watter kerkfamilie gaan jy as ‘n dienende gemeentelid aansluit? Hoe meer volwasse jy word, hoe meer gaan jy Christus se liggaam liefhê en opofferings daarvoor maak, om diensbaar te wees.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Comments are closed.