ONTDEK JOU PLEK (Moreletapark Gemeente)

MY GAWES

 

In hierdie gedeelte gaan ons die Gawes van die Heilige Gees ondersoek wat aan gelowiges uitgedeel word. Hierdie is nie ‘n detail uiteensetting oor die gawes van die Heilige Gees nie, maar moet ons help om te verstaan wat die beteken as God sê dat Hy vir ons buitengewone, bonatuurlike gawes gee.

Om dit te verstaan moet ons ‘n paar basiese beginsels wat die Woord hieroor leer in ag neem:

  • Gawes is Goddelike geskenke: Gawes kom nie uit die mens nie en kan ook nie deur goeie werke verdien word nie. Ons kan nie ons gawes kies nie; dit kom van God af. (1 Kor 12:7).
  • Gawes word deur GOD gegee, soos Hy wil. “Maar al hierdie dinge bewerk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil” (1 Kor 12: 7, 11).
  • Die Gees deel verskillende gawes aan verskillende gelowiges uit omdat Hy weet wat in elke situasie nodig is en omdat God vir elke mens ‘n unieke plan het (Rom 12:6; 1 Kor 12:6 en 31).
  • Ons het elkeen ‘n taak om te vervul (Ef 4:11) in God se plan. As ons ons take opneem en diensbaar word in die liggaam van Christus sal ons groei en volwasse word in die geloof (Ef 4:13 – 15).
  • Die doel is om ander mee te dien: Dit het te doen met ‘n buitengewone, bonatuurlike vermoë wat jy het om ander mense in liefde mee te dien. (1 Kor 13). Daarom mag gawes NOOIT aanleiding gee tot TROTS, BELANGRIK VOEL, STATUS of AANSIEN nie.  Jy ontvang GAWES van God om Hom en ander mee te dien!
  • Die gawes wat ons ontvang is vir die hier en nou om God se wil op aarde te laat geskied en Sy naam te verheerlik en ander op aarde te dien en op te bou. Die gawes sal verdwyn as ons eendag van aangesig tot aangesig met God kom (1 Kor 13:10).

 

MY GEESTELIKE STORIE

Soos ons God se hand in ons lewens ontdek het in MY STORIE, kan jy nou hier ook jou ‘geestelike’ storie neerskryf om jou te help om te sien hoe jou pad met die Here verloop het. Laai MY GAWES Werksblad 1 af en voltooi.  

MY GAWES Werksblad 1

 

GAWES IN DIE BYBEL

Kom ons gaan ondersoek net eers die Skrif om te sien watter gawes word daar van gepraat in die Bybel as Gawes van die Heilige Gees.

Laai MY GAWES Werksblad 2 af en voltooi.

HOE WEET JY OF JY ‘N GAWE HET?

Vraelyste is nuttig, maar ‘n goeie toets om aan te lê as bevestiging van jou gawes is aan die hand van die drie gevolge wat gawes in jou lewe het wanneer jy dit gebruik:

1.           Jy munt uit daarin.

‘n Gawe is nie net iets wat jy doen nie, dis iets wat jy uitnemend doen. Wanneer jy dit doen, het dit net daardie impak wat dit besonders maak.

2.           Dit maak energie by jou los.

Wanneer jy jou gawe gebruik, is dit geneig om jou eerder te laat energie kry, as wat dit jou energie tap. Jy voel jy kan aanhou en aanhou. Selfs in tye wat jy moeg is, “kikker” die gebruik van jou gawe jou sommer op.

3.           Dit bring groot vreugde.

‘n Doel van gawes in die gemeente is dat dit vreugde gee aan dienswerk. Dis vir jou lekker. Jy geniet dit en is sommer net vroliker wanneer jy die geleentheid het om jou gawe uit te leef.

Evalueer jou gawes hiervolgens – diegene waar al drie bogenoemde faktore terselfdertyd voorkom, is heel moontlik in die kol as jou primêre gawe(s).

Die Bybel is duidelik daaroor dat daar ‘n groot verskeidenheid gawes is wat die Gees aan gelowiges uitdeel ‘soos Hy wil’.

 

GAWETOETS

Dit het nou tyd geword dat jy jouself kan ondersoek om te sien watter gawes die Heilige Gees aan jou gegee het.

Laai   MY GAWES Werksblad 3 af en voltooi dit volgens die riglyne. Dra jou antwoorde oor op die RESULTAAT- blad tabel en tel die kolomme onder mekaar op. Vergelyk jou resultate met die GAWES-SLEUTEL en dra die gawes se name wat die hoogste tellings het oor op die tabel daarvoor voorsien. Indien daar gawes is wat dieselfde telling het, skryf jy albei op dieselfde lyn. Bv. as jou hoogste telling 18 is, maar jy het 2 18’s, dan skryf jy albei daardie gawes in posisie no. 1.

 

 

GAWES RESULTATE INTERPRETASIE

Dra jou keuses (resultate) oor op die antwoord tabel. Tel die syfers in die kolomme onder mekaar op en skryf die totaal in die onderste ry van die kolom.

Die tellings reflekteer die prioriteit wat elkeen van die gawes in jou lewe het.  Vergelyk die afkortings vir die gawes met die gawes sleutel. Dra nou die name van die gawes oor op die tabel wat jou gawes sal reflekteer.  Indien daar 2 gawes is met dieselfde telling, skryf albei die gawes se name op dieselfde lyn (posisie) neer.

 

 

Hoogste telling – Gawes

Dit is die gawes wat jy gereeld gebruik en wat tot ‘n sekere mate reeds bevestig is. Dit is hoogs waarskynlik dat jou werklike gawes in hierdie area lê. Voordat jy bedieningstake in die gemeente / gemeenskap aanvaar, moet jy seker maak dat dit met hierdie gawes ooreenstem.

Hou gerus die volgende beginsels in gedagte:

  • Gawes ‘bou’ op mekaar / vul mekaar aan
  • Gawes hou verband met jou ‘storie’ / ervarings
  • Gawes hou verband met jou ‘styl’ = jou gemaksone waarin jy graag leef
  • Gawes is gefokus op ‘n bepaalde DIENS

 

Bevestiging van Gawes

‘n Vraelys is ‘n handige instrument om jou ‘n aanduiding te gee van die waarskynlike gawes wat God aan jou gegee het. Dis egter nie die finale bevestiging van jou gawes nie! Bevestiging geskied in die praktyk deur die aanwending van jou gawes in die praktyk.

In Werksblad 3 word ‘n volledige beskrywing gegee van die onderskeie gawes. Bestudeer die gawes wat op jou van toepassing is.

 

Verband tussen Gawes

‘Gawes bou op mekaar’. Hierdie is ‘n belangrike stelling om die verband tussen die gawes in jou lewe te verstaan. As bree riglyn sou mens kon sê dat die 1e 3 gawes in jou lys, op die oomblik gawes is wat jy aktief beoefen in jou lewe of al toegepas het. Die belangrike om raak te sien is dat hierdie gawes ‘op mekaar bou’. As GELOOF jou no 1 gawe is, en HANDVAARDIGHEID no. 2 is, is die volgende belangrik. GELOOF as gawe beteken nie in die eerste plek om ‘n sterk geloof te hê nie, maar dit is die gawe wat jou ‘n passie gee daarvoor om ander mene te ondersteun wat begin twyfel of wat in ‘n geloofskrisis is. Dit is bedoel om ander mense te help om hulle geloof in God te herwin. As HANDVAARDIGHEID dan hierby kom as gawe, beteken dit moontlik dat jy ‘n bepaalde praktiese vaardigheid het wat as aanknopingspunt kan die om met mense oor hulle geloof te gesels of hulle vertroue te kan wen om met hulle oor hulle geloof te kan gesels. Prakties kan dit beteken dat jou maak van knipmesse, bak van koekies, houtwerk of naaldwerk, die aktiwiteit / diens kan wees wat jou ‘n geleentheid bied om geloof in iemand anders se lewe in te spreek.

Ek hoop jy verstaan die beginsel nou. Pas dit nou toe op jou lys van gawes.

‘n Ander interessante waarneming wat die praktyk my geleer het, is dat Gawes no. 4 & 5 op die lys waarskynlik nie gawes is wat jy op die oomblik aktief benut nie. Ek noem dit sommer ‘latente’ gawes. Dit is gawes wat die Gees reeds vir jou gegee het, maar met die ook op diens wat jy sal moet verrig in die toekoms as Hy dit in jou lewe aktiveer. Kyk gerus uit vir sodanige geleenthede.

 

Hoe kan ons ons Gawes beter beoefen?

  • Luister na God se stem (Joh 10):
  • meer tyd met God spandeer
  • bring meer tyd met ander gelowiges deur
  • groter oorgawe aan God (Gal 5:16)
  • meer tyd in gebed (Kol 4:2)
  • streef na geestelike volwassenheid (Ef 4:13).
  • Geestelike wapenrusting (Efe 6):
  • Vernuwe jou denke (1 Kor 2:16)
  • Suiwer / Bevry jou gees (vrees, skuldgevoelens, minderwaardigheid) (Ps 23:4)
  • Leef in vrug v/d Gees (Gal 5:22).
  • Fokus op gawes
  • Vra daarvoor (1 Kor 12:31)
  • Wakker dit aan (2 Tim 1:6)
  • Beoefen jou gawes  (Heb 5:14)
  • Moenie gawes verwaarloos nie (1 Tim 4:14)

 

Moenie Gawes met die volgende verwar nie:

Talente

  • Talente is dikwels ‘n goeie aanduider van jou begaafdheid, maar stem nie as ‘n reël noodwendig ooreen met jou gawes nie.
  • Geestelike gawes is uniek aan gelowiges. Talente is algemeen by alle mense.
  •  Talente en gawes bly albei Godgegewe.
  •  Gawes word bevestig deur die liggaam van Christus.
  • Gawes moet God verheerlik en ander mense opbou – ‘n talent is meestal gerig op blote selfverwesenliking.

 

Vrug van die Gees (Gal 5:22)

·        Die sigbare kenmerk (en maatstaf) van geestelike volwassenheid.

·        Dit verwys ook na die ontwikkeling van jou geestelike karakter.

·        Dis “wees” eienskappe, waar gawes “doen” eienskappe is.

·        Beide die Vrug van die Gees en Gawes behoort sigbaar teenwoordig te wees in die lewe van die gelowige Christen.

·        Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Goedhartigheid, Getrouheid, Nederigheid, Selfbeheersing (Gal 5:22).

 

Christelike Rol, Plig en Verantwoordelikheid

  • Dit sluit sake in soos Bybelstudie, gebed, vas, gee van tiendes en ander praktyke wat as opdrag ons verantwoordelikheid, plig en rol as Christene is
  • Dit help ons om doelbewus te groei in ons verhouding met God.

 

Rolle, Titels en Ampte

·        In elke gemeente is daar titels wat op mense se bedienings of ampte dui.

·        Voorbeelde in ‘n gemeente is “dominee”, “kategeet”, “kleingroepleier” ens.

·        Die titel van bv. “leier” gaan nie noodwendig saam met die gawe van leierskap nie.

·        Titels en rolle is belangrik vir praktiese reëlings en struktuur, maar neem nooit die plek van gawes oor nie.

 

Algemene Vrae rakende Gawes

Sal God ooit ‘n gawe of gawes wat Hy vir my gegee het terugneem vir watter redes ookal?

Nee, alhoewel God die Een is wat mense aanstel en Hy dus jou posisie positief of negatief kan verander, neem Hy nie gawes wat Hy vir jou gegee het terug nie. In Rom 11:29 staan daar geskrywe: “As God eenmaal aan mense Sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.”

Kan ‘n mens se gawes verander?

Ja, maar gewoonlik gebeur dit dat jou gawes lewenslank aan jou toevertrou is. Verder, soos ‘n mens groei in jou geloof en kennis van die Woord en waarheid van God, kan God jou fokus verander en dus vir hierdie doeleindes nuwe gawes byvoeg. Dit kan noodwendig behels dat jy nie meer jou ‘ou gawes’ so dikwels sal gebruik nie, aangesien die fokus van jou bediening nou anders lyk. ‘n Voorbeeld is waar iemand byvoorbeeld begin het as ‘n bidder en intersessor, en uiteindelik geroepe voel om berading te doen. Sy/haar fokus skuif, maar verloor niks nie. Daar word eerder gawes bygevoeg.

Hoe hanteer ek dit as ek ongemaklik voel oor my gawes?

Maak dit ‘n gebedsaak tussen jou en God en moenie voor die voet dinge afskiet of verwerp bloot net omdat jy nog nooit daaraan blootgestel is nie. Bid tot God en vra Hom om aan jou uit Sy Woord te antwoord en te oortuig. Jesus het belowe dat die Heilige Gees ons in alle waarheid sal lei. In Jak 1:5 staan daar geskrywe: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit vir Hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en verwyt.”

Waar in die Bybel kan ek die beste nalees oor die gawes van die Heilige Gees?

Daar is verskeie plekke in die Bybel wat praat oor die gawes van die Heilige Gees, maar 1 Kor 12, 13 en 14 is ‘n uitstekende samevatting rakende die gawes van die Heilige Gees. Hoofstuk 12 handel oor die gawes self en hoe God aan elke Christen gelowige ‘n gawe of gawes gegee het. Hoofstuk 13 vertel ons waarom God gawes aan sy liggaam (die kerk) gegee het en waaroor dit alles gaan. Hoofstuk 14 waarsku die Christen teen misbruik van sy of haar gawes en dui duidelik dat die einddoel die opbou van die gemeente moet wees. Gawes gaan altyd primêr oor God en sekondêr oor diens aan my naaste. Dit gaan dus nooit oor myself, my eie agenda of my eie koninkryk nie.(1 Pet 4; Rom 12; Ef 4)

Gaan gawes eendag ophou bestaan?

Ja, wanneer ons die Here gaan ontmoet in die hiernamaals. Gawes sal dan nie meer nodig wees nie omdat ons in Sy volmaakte heiligheid sal ingaan en soos Hy sal wees. Gawes is dus vir die hier en nou op planeet aarde. Dit is om Jesus se bediening op aarde voort te sit en sy hande, ore, voete en mond te wees in ‘n wêreld wat dood en verlore gaan. Dit is die belofte waarvan ons lees in Hand 1:8: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

‘n Paar Feite oor Gawes …

Daar staan in die Bybel dat:

·        Elke gelowige ‘n gawe ontvang het (Rom 12:6).

·        Gawes gegee is vir die opbou van die gemeente (1 Kor 14:12).

·        Liefde belangriker is as gawes (1 Kor 13:1).

·        Jy ingelig behoort te wees oor gawes (1 Kor 12:1).

·        Jy jou gawe moet gebruik in dienswerk (1 Pet 4:10).

·        Jy jou gawe moet ontwikkel (2 Tim 1:6).

·        Ons almal nie dieselfde funksie in die gemeente het nie (Rom 12:4).

·        Gawes verskil van persoon tot persoon (Rom 12:6).

·        Ons gawes tot almal se voordeel gegee is (1 Kor 12:7).

·        Jy op jou sterkste gawes behoort te fokus (1 Kor 12:31).

‘n Paar Mites oor Gawes …

Nêrens in die Bybel staan daar dat:

·        Die voorkoms van enige van die gawes ‘n voorvereiste van redding is nie.

·        Daar een gawe is wat almal beslis besit nie (bv. tale of profesie).

·        Almal al die gawes besit nie.

·        Daar slegs ‘n sekere vaste aantal gawes bestaan (bv. 9, of 25) nie.

·        Jy meer gawes het as jy meer geestelik volwasse is nie.

·        Gawes verdien kan word nie.

·        Sekerheid van jou gawes ‘n voorvereiste vir betrokkenheid of dienswerk is nie.

·        Gawes altyd dieselfde voorkoms by jou sal hê nie.

·        Daar ‘n gawe is wat slegs vir sekere mense (bv predikante) gereserveer is nie.

·        Gawes se voorkoms of werking die ware teken van geestelike volwassenheid is nie.

·        Jy die gawes slegs ontvang deur handoplegging nie.

·        Jy die gawes slegs ontvang as jy gedoop is nie.

·        Wonderwerkende gawes se voorkoms (bv tale, genesing ens.) die teken is dat jy gered is nie.

Neem kennis van die Gevare …

  • Gebruik en misbruik van gawes

Die Nuwe Testament is baie duidelik dat gawes gebruik moet word tot opbou van die gemeente. Dit gebeur egter nie altyd dat die gebruik van gawes in die gemeente die gemeente bou nie. Sekere gawes kan ook in gemeentes onderbeklemtoon of oorbeklemtoon word. Die oplossing is beslis nie om sekere gawes te verbied of te ontken nie. Die oplossing is eerder om die regte gebruik te onderrig en te demonstreer in ‘n gemeente.

 

  • Ontwikkel jou gawes

Die voorkoms van ‘n gawe beteken nie dat jy nie kan verbeter in die gebruik daarvan nie. Ons moet moeite doen om ons gawes te ontwikkel en te verbeter. (“Om hierdie rede herinner ek jou dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ‘n vuur weer moet aanblaas” 2 Tim 1:6). Maniere om dit te doen is om dit gereeld te gebruik, by ander wat meer geoefen is daarin, te leer, kursusse by te woon daaroor en God te vra vir die werking van Sy Gees deur jou.

 

  • Bly oop vir die voorkoms van nuwe gawes

Om jou gawes te ontdek, handel die saak nie af nie. God kan ter enige tyd aan jou ander nuwe gawes skenk en jy moet oop wees daarvoor! Ons kan ook bid vir sekere gawes, maar moet onthou dat God die Gewer daarvan is en dat gawes nie verwerf kan word nie – dit bly ‘n geskenk uit genade.

 

  • Die groot gevaar: Projeksie van gawes

Die mees algemeenste probleem onder Christene in die gebruik van gawes, is dat ons dit projekteer op ander. Ons verstaan nie hoekom ander van ons verskil nie. As ek byvoorbeeld die gawe van vrygewigheid het, dan dink ek ander Christene is sommer net eenvoudig suinig en onvolwasse. Ek vergeet dat ek uit genade die gawe ontvang het – en nie almal het dieselfde gawes nie! Gawes wat ‘n groter gevaar van projeksie as ander loop, is: evangelisasie, geloof, tale, voorbidding en barmhartigheid.

 

  • Gawes en die “gevoel van die oomblik”

Gawes wat God jou gee, verander nie van dag tot dag nie. God rig jou op, en het ‘n spesifieke plan vir jou. Daarom het mens verseker “primêre” en “sêkondere” gawes. Moenie dat ‘n sekere periode van geloofsgroei of blootstelling jou van jou gawes laat vergeet en ‘n ander rigting laat inslaan nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Comments are closed.